Soos sand in ‘n uurglas

 

 


Blitse verhelder die hemelruim met skouspelagtige spatsels van lig. Die donderweer slaan met ‘n dreuning so hard dat die klankgolwe reg deur my bors vibreer.

Die storm buite woed wild en dit klink nogal asof dit dalk die wederkoms kan wees.

Oomblikke van tevore was daar niks. 

Binne minute het die dawerende dreuning die stil atmosfeer kom onderbreek, sonder verskoning of genade.

Omdat ons op ‘n heuweltjie van soorte bly, is die blitse gewoonlik baie erger by ons as by meeste ander huise en word ons huis minstens een maal raakgeslaan deur die weerlig in so donderstorm. Ons huis is soos ‘n weerlig-magneet en spring nie sommer die piets vry nie.

In my binneste weet ek dat dit nie lank gaan wees voor een van my kinders by ons bed gaan opdaag nie.

My jongste is baie bang vir donderweer en die klank, wat my eers nou as grootmens, vul met verwondering oor die Almag van God, wek diep vrees in hom op ten spyte van die wete dat God die skepper en bron van dit is.

Millisekondes na die eerste blits is hy daar.

Hy klou verwoed aan my arm en knyp sy ogies styf toe.

So in die donker lê ons.

Hy wat klou, en ek met my arm oor sy gespanne lyfie.

Na die derde slag, wat so naby is dat dit die kamer verlig asof dit dalk dag kan wees, vra hy my saggies: “Mamma, hoe lank is die nag nog?”

‘n Vraag so uit onskuld, maar een wat ek al so baie gevra het vir God in tye wat my geestelike nag so lank gevoel het dat ek nie geweet het of die dag ooit sal aanbreek nie.

Selfs Dawid, te midde al sy mooiste lofpsalms, het herhaaldelik aan God gevra: Here, hoe lank nog? Dié frase, wat gesien word volgens navorsing, as dit wat die meeste deur die loop van die Psalms gevra word.

Tyd is ‘n netelige ding en in die afgelope Kersseisoen het Abba baie hierdie tema van tyd in my hart kom aanroer.

Twee ure is lank as jy in ‘n kar sit en die langpad aandurf, met ‘n desperate badkamer noot, terwyl die naaste garage nog kilometers weg is en jy nie van die nodige “tools” besit om ‘n botteljie te gebruik of ‘n veldtie te kap nie (ten minste nie sonder moeite en fyn balans nie).

Maar twee ure is so kort as jy besig is om jou gunsteling Tv reeks te “binge watch”.

'n Uur is lank as jy wag vir mediese toets uitslae wat die rigting van jou lewe bepaal.

Tog so kort wanneer jy dit langs die bed van ‘n sterwende geliefde spandeer, angstig om tog net vas te hou aan elke laaste bietjie saam wees en lewe.

Vier ure is lank, wanneer jy wakker lê in ‘n oornag plek en die donker om jou saamdrom maar slaap net nie kom nie, selfs al is jy hoe moeg.

Tog is dit kort wanneer dit die laaste oomblikke is wat jy saam met jou kinders kan spandeer wat oppad is na ‘n ander land en nuwe avonture.

TYD...

Een van die mees ontwykende konsepte.

Dit kan nie herwin of opgegaar word nie.

Dit kan nie gesien of vasgehou word nie.

Dit behoort nie aan ons nie, en maak nie saak hoe goed ons dink ons dit bestuur nie…dit stap aan. Sonder toestemming. 

Sonder 'n bohaai. 

Sonder dat jy dit kan keer.

Presies soos die skrywer van Prediker ons ook herinner as hy dan sê dat daar ‘n tyd is vir alles onder die son.

Die goeie gaan verby (soms vinniger as wat ons wil hê) maar die slegte en moeilike gaan ook verby.

Tyd behoort aan niemand behalwe God nie, en slegs Hy sal in Sy tyd dinge manifesteer.

So dan ook waar van Sy wederkoms…al het die storm my oortuig dat dit dalk daar en dan kon wees.

 

Toe ek jonk was, het ek altyd die tyd omgewens na die volgende vakansie, die volgende lekker ding, die volgende….

Noudat ek ouer is en selfs kinders het, is ek van niks meer bewus as hoe vining tyd wel verby vlieg nie. of jy nou wil hê dit moet of nie. 

Soms wens ek dat ek dit kon stop. Soos toe God die son laat stilstaan het in die hemele sodat Israel die oorlog teen die Amelekiete kon wen.

Maar dit snel verby my soos 'n hoëspoed trein.

My kinders verander voor my oë van jong seuntjies na jong manne en daar is niks wat ek kan doen om dit te keer nie, selfs al wens ek soms ek kon teruggaan, al was dit net vir ‘n oomblik.

Terug na klein handjies en drukkies (en soentjies) wat gegee word in die oopte sonder dat hulle bang is hulle lyk nie meer “cool” voor hulle maats nie.


Soos sand wat deur ‘n uurglas loop, syfer ons dae, maande en jare deur die uurglase van ons lewe. soos die sepie Days of our Lives se tema “lied” gelui het. 

Ons kry slegs ‘n sekere hoeveelheid tyd in hierdie lewe om te bestuur en om rentmeesters oor te wees.

Die vraag is dan, wat doen ons daarmee?

Vermors ons dit op dinge wat nie waarde bydrae nie, soos haat, onvergifins, ondankbaarheid en selfsug.

Of spandeer ons dit aan dinge wat lewe gee in God se Koninkryk. Soos vriendskap, liefde, gemeenskap, verhoudings, vrygewigheid, heelmaak en deel maak van ander aan die familie van God.

Tyd bly steeds vir my ‘n konsep wat ek dalk nooit sal verstaan nie, MAAR hiervan is ek oortuig;

-      - dat God tyd meer kan maak en dit kan herstel wat verlore is,

-       - my kan help om die meeste te put uit die tyd wat ek het,

-      - en dat Hy en Hy alleen elke nano-sekonde van my lewe in Sy hand hou en ek dus rustig kan raak, met die wete dat solank my oë op Hom is Hy elke seisoen onder die son ten goede SAL laat meewerk binne in Sy goeie planne.

Niks vang Hom omkant nie en dit is nooit te laat om Hom die Koning van jou lewe, en dan ook, jou tyd te maak nie.

Mag jy vandag KIES om jou tyd met oorgawe oor te gee in Sy bekwame hande, en soos Dawid in Ps 16:5 te kan sê:

“You alone Lord Yahweh are my prize, my portion and my pleasure. You hold my destiny and its TIMING in Your hands.”

Comments

Popular Posts