DIE SKILD VAN GELOOF
In ons huishouding is elke Vrydag aand “storie aand”.
Terwyl
ons besig is om “How to train your dragon” vir die miljoenste keer te kyk sê
die een karakter iets wat my hart roer…“Your most important piece of equipment
is your shield! If you must make a choice between a sword or a shield, take the
shield!”
Lank het
ek geloop en dink aan hierdie stelling en myself afgevra of dit dan wel vir my
die waarheid is of net ‘n oulike sê ding wat nie eintlik in werklikheid
akkuraat is nie.
In
hierdie selfde tyd bevind ek myself, tot my grootste frustrasie, alweer in ‘n
“wildernis week” waar God ver voel, en ek, geestelik droër is as daai laaste
bokkom wat niemand wou koop nie. Daardie vissie wat so lank al hang dat hy nie
meer weet hoe die water van die lewe smaak nie…selfs al kon hy nog proe.
Ek
struikel oor my eie gedagtes, vas gevang in die tronk tussen my eie twee
ore…heen en weer met God tussen die paar woorde en gedagtes wat ek kan saamvoeg
maar eintlik nie eers seker van wat ek self sê of vra nie.
Die
gedagtes knaag aan my soos ‘n neulende kind wat speel met sy ouers se laaste
geduldsnaar.
In die
vroeë oggend ure, half deur die slaap, sit ek op die spaarkamer se bed en
probeer opdaag vir my tyd saam met God. Omdat ek net halfpad daar is hoop ek Hy
daag wel op want ek is nie so seker van my eie teenwoordigheid nie.
Die Gees
lei my na die SKILD van GELOOF, en soos wat ek lees kom dit wat die fliek beaam
het, vir my weer deur in my gedagtes.
Die Gees
druk die feit dat die skild juis dié deel van die wapenrusting wat ons tans die
nodigste het op my hart.
In ‘n
wêreld waar leuens lyk soos waarheid en mense graag hulle ore uitleen aan die
aansteeklike negatiwiteit van ander is GELOOF ons eerste en sterkste
verdediging.
Dit is
die gom van die Wapenrusting wat al die ander dele bymekaar hou.
Elke
deel van die wapenrusting is uiters belangrik maar die SKILD is die enigste
deel van die wapenrusting waaraan daar ‘n spesifieke doel gegee word en GELOOF
aktiveer die gebruik van al die ander dele van die wapenrusting.
Geloof
se natuur het volkome te doen het met dit wat ons nie sien nie bo
oor dit wat ons met die blote oog waarneem (Heb 11:1) en word uitgeleef in
LIEFDE (Gal 5:6).
GOD
HET ONS LIEF en
het vir ons die ewige lewe bewerkstellig (Joh 3:16). In reaksie daartoe dat ons
dit GLO het ONS HOM WEER LIEF, wat
maak dat ons ANDER OM ONS KAN LIEF HÊ omdat dit die
manier waarop jy lewe en opdaag in hierdie wêreld verander.
GELOOF
is dus nie iets wat ons konstant oor moet dink of iets wat ons met bloedsweet
hoef uit te voer nie maar eerder ‘n houding van VERTROUE in DIE EEN waarin jy
GLO, WAT Hy van jou sê en die wete, dat selfs al voel dit asof jy van Hom laat
gaan op tye, HY NOOIT LAAT GAAN VAN JOU NIE.
Geloof
as skild in die Woord verwys na Romeinse skilde wat so groot soos ‘n deur was.
Gemaak om die hele liggaam te beskerm teen vlammende pyle asook om te kan
terug druk teen die vyand wat aangeval het.
Elke
skild het die embleem en kleure opgehad van die groep waaraan die persoon
behoort het (mense wat vir dieselfde doel geveg het, met eenderse beginsels).
Weens
die konvekse vorm van die skild was dit ook gebruik om ‘n verdedigende muur
teen die vyand se aanval te vorm deur bymekaar in te haak sodat daar geen
weerbare opening of swakplek gelaat is in hulle mondering nie.
Die
vyand is geneig om in wildernis oomblikke ons aan te val met angs, depressie,
twyfel, moedeloosheid, vrees en halwe waarhede oor wie ons is.
Dis juis dan in hierdie oomblikke, met die geveg wat om ons woed, waar ons elkeen individueel, maar ook in gemeenskap met mekaar, ons SKILDE moet opneem (Efesiërs 6:16) sodat ons al die brandende pyle gevuur uit die kamp van die vyand kan afweer en uitdoof met GOD se WAARHEID.
GELOOF
is ‘n geskenk van ‘n genadige en liefdevolle God wat ons toelaat om te kies of
ons, ons wil sal laat hande vat met Sy gratis en pryslose geskenk van GENADE
deur in Hom te GLO.
Dit help
ons om terug te druk teen die vyand en om tree vir tree grond te wen vir Sy
Koninkryk in ons harte, huise, skole en gemeenskappe.
Deur ons
SKILDE saam te snoer kan ons mekaar beskerm van die brandende pyle wat jou
buurman/vrou dalk nie sien kom nie.
So mag
jy wanneer jy jouself weer in wildernis weke bevind of jy
beleef dat die aanval dreig in ander om jou se lewens, jou oë VESTIG OP JESUS,
die outeur en voleinder van jou GELOOF (Heb 12:2).
Mag jy
Die Skild van Geloof met oorgawe kan optel, jou oorlogskreet van oorwinning
uitroep en die vyand stormloop met die VASTE OORTUIGING dat die stryd aan GOD
behoort, en oor jy Sy duur gekoopte kind is, HY jou reeds vooruitgaan.



Comments
Post a Comment