AVODAH


Wat is AVODAH?

Dit is ‘n merkwaardige konsep in die WOORD wat nie net een betekenis het nie, maar soos ons Allerhoogste God, in drie-enigheid bestaan.

WERK. AANBIDDING. DIENS.

Hierdie woord kom heel eerste voor in Genesis waar God vir die mens die opdrag gee om in die Tuin van Eden te werk (avodah) en dit te onderhou (Gen 2:15).

In Eksodus (8:1) sê Moses weer vir Farao dat God beveel hy Sy mense moet laat gaan sodat hulle Hom kan gaan aanbid (avodah) in die wildernis.


God se intensie vir ons is dus nie om onsself in en uit boksies te plaas, waar aanbidding en lofprysing net vir Sondae is en werk vir die res van die week nie. Ons WERK IS aanbidding.

Ons DIENS aan ander IS aanbidding.

Ons lewens is ‘n stewige en gelykmatige stroom van aanbidding wat oprys na God toe soos wat ons die talente en gawes wat God aan ons toevertrou het gebruik in ons plekke van werk en diens.

Werk is nie ‘n straf, of nodige maar frustrerende deel, van ons lewens net om kos op die tafel te kry en rekeninge te betaal soos wat die bedrieër die mensdom probeer oorreed nie.

Dit is ‘n geskenk van 'n liefdevolle God aan ons, en die manier waarop ons dit uitvoer en die gesindheid wat ons handhaaf terwyl ons dit doen, is weer ons  geskenk van dankbaarheid aan die Een wat ons in staat stel om dit te doen.

AVODAH skreeu dus van eerbied en lof deur die WYSE waarop ons werk.

Die integriteit wat ons aan die dag lê in ons area van diens.

Die manier wat ons met ons medemens omgaan.

In die keuse wat ons maak om te luister of nie te luister na sekere dinge nie of om deel te neem, of weg te stap, van gesprekke wat nie ons Maker of Sy skepping eer nie.

AVODAH gaan beteken dat ons soms gaan alleen staan. 

Dalk op meer geleenthede as wat gemaklik of lekker gaan wees vir jou.

Die pad in ‘n lewe van AVODAH gaan soms nou en eensaam word en jy gaan keuses moet maak teen die impuls van jou vlees, waarvan jou vlees beslis nie gaan hou nie maar jou gees oor gaan verheug, juis oor dit die eerbare en geregtige roete is om te neem. 

Jy gaan heel moontlik beleef dat jou lewenskompas, meer gereeld as wat jy sou wou hê, jou gaan lei om in die teenoorgestelde rigting te stap as ander en dit gaan nie altyd pret wees nie.

In elke tree wat jy egter gee in nederigheid, terwyl jy hand aan hand loop langs DIE VADER (Miga 6:8), gaan jy intens beleef hoe jy nader aan God se manier van doen en leef begin beweeg.   

Jy sal begin sien hoe jou daaglikse lewe en jou aanbidding meer geïntegreer word en 'n metamorfose ondergaan.

Totdat dit in ‘n soomlose werk-aanbiddings leefstyl verander waar jy ten alle tye en in alle dinge God wil eer met wat jy doen en sê en Sy wil en denke gereflekteer word in joune.

AVODAH word uitgeleef in die manier waarop ons rentmeesterskap neem van ons gawes en talente en opstaan vir die minder populêre manier van ‘n ding doen deur ander hoër te ag as onsself en integriteit en geregtigheid na te streef ten alle koste.

AVODAH is nie maklik nie en dit verg opoffering…van geleenthede, ons eie ego en wil, ons gemak en soms dan ook die voorkeur en aansien van mense.

Dit gee wel soveel meer terug as wat ons ooit van kan droom…die aansien, goedkeuring en die dawerende applous van jou Skepper en die skare van getuies wat ons aanspoor tot die einde van ons aardse pad.

 

Jou werk is dus vir God belangrik.

Jy is vir Hom kosbaar en Sy oë is altyd op jou.

Jou werk behoort aan Hom.

 

Soos wat jy die week inbeweeg met hope nuwe uitdagings en tien talle verpligtinge, mag jy besef dat jou werk aan dié kant van die ewigheid, of jy die hoogste CEO posisie beklee, of ‘n mamma is wat haar lewe toewy om haar God gegewe pyle reguit te mik na Sy hart, kosbare wierook is wat in God se troonkamers in op styg en Sy mondhoeke roer na ‘n onbegrensde glimlag as jy lewe in die hart van AVODAH.

Comments

Popular Posts