SY WAS STEEDS 'N MAMMA

 

Ma wees ‘n soms maar ‘n bitter ondankbare pos om te vervul.

Mens moet soveel verskillende hoedjies dra elke dag en seker maak dat almal in jou gesin gelukkig, tevrede en voorbereid is vir die lewe selfs al voel jy soms asof jy nie mooi weet waar bo en onder sit nie.

Tydens gister se moedersdag vieringe dink ek aan al die verskillende mammas wat ek ken en hoe elkeen van hulle ten spyte van hulle omstandighede hulle families koester, ondersteun, lief het en bymekaar hou soos ‘n mamma hen wat haar kuikens toevou onder haar vlerke.

Die enkel mammas wat niemand het om op te steun nie wat die rol van mamma en pappa moet volstaan sonder om ‘n hartklop te mis.

Die mamma wat huil oor die kindjie wat te vroeg weer moes teruggekeer na Jesus, van wie sy nooit daardie asempie sal voel teen haar bors aan dié kant van die ewigheid nie en wat altyd sal wonder hoekom daardie mensie so vroeg moes groet.

Ek dink aan elke mamma wat haar uiterste bes gee om haar pyle te in waarheid te mik na God se hart al het sy nooit self ‘n teenwoordige mamma gehad om haar te wys hoe mens die boog van die lewe moet vashou en span om daardie pyle reguit te mik nie.

En die lys gaan aan…die mammas wat se huise leeg is maar hul harte vol; of die wat se gesins opset nie meer lyk soos die prentjie waarvan sy gedroom het as jong en onskuldige dogtertjie nie maar wat nou haar geskenkies deel-deel probeer koester; die ouer mammas; die jonger mammas, die gras weduwee mammas...so baie verskillende soorte mammas.

Soos ek staan en skottelgoed was dink ek aan Maria, ‘n jong mamma, eintlik nog pure kind self, wat ‘n baba moes grootmaak waarvoor sy self nie die insig en wysheid gehad het nie, in ‘n tyd waar sy nie self regte gehad het nie maar moes vertrou dat die man, wat sy trou aan haar beloof het, haar nie soos ‘n warm patat sou los of dink sy was dalk die klits kwyt as hy moes hoor waar hierdie kind dan nou eintlik Sy oorsprong vind nie.

‘n Vrou wie se geloof so groot was dat sy ten spyte van die abnormale manier waarop sy mamma sou word vertrou het dat God se plan goed genoeg was vir haar en so vertrou het in Sy beloftes dat God haar as hoogs geseënde onder vrouens aangespreek het.

My gedagtes dwaal na hoe dit moes wees om Jesus te moes leer en grootmaak en Hom te moes beleef in die piek van Sy aardse roeping terwyl jy geweet het dat Hy eintlik die Een was wat jou moet leer.

Hoe moes dit nie voel om jou seun te sien wonders doen, rye en rye mense wat naarstiglik wou uitkom by Hom vir genesing en hoe Hy net aanhou genees het, aanhou getuig het, aanhou dien het selfs al wou sy eie menslike liggaam ingee van uitputting nie.

Ek glo sy sou hom wou kos gee en versorg, hom beskut van die toeloop van mense wat net een aanraking wou hê…want sy was steeds ‘n mamma.

Hoe sy sou moes toekyk hoe hy gespoeg, gespot en gemartel word deur wreedaards, sonder om iets te kan doen, en die mamma-beer in haar hulle eerder sou wou aanrand vir die onreg wat hulle haar seuntjie aandoen, maar hoe sy moes terugstaan en net kyk in magteloosheid…want sy was steeds ‘n mamma.

In ‘n stortvloed van trane moes sy staan voor die kruis waar haar baba seuntjie bloedbevlek, gewond en mishandel gehang het. Desperaat om hom te spaar deur haar lewe te ruil vir Syne. 

Enige iets om net die seer en lyding van Hom af weg te hou, maar weens die reddingsplan en doel van God, verlaat is daaraan om slegs ‘n toeskouer te wees van haar Seun van belofte se marteldood.

Die pyn wat sy aan haar eie lyf moes voel, oor die bloed van haar bloed en vlees van haar vlees, se pyniging en haar snakke na asem soos wat sy onbedaarlik gehuil het tot haar traanhouertjie leeg was …want sy was steeds net ‘n mamma.

Hoe sy die lewelose en verminkte liggaam van haar seun moes vashou by die graf, en met ‘n onsekere verstaan dat Hy weer sou opstaan, finaal haar eersgeborene moes groet met ‘n diep droefheid en woordlose pyn wat geen ouer ooit moet beleef nie…want sy was steeds ‘n mamma.


Ek kan so geneigd wees om die gedeeltes in die Bybel wat ek lees sonder die gepaste meelewing te lees omdat ek reeds weet wat kom. 

Wanneer ek egter myself in die skoene van die mense plaas, wie se verhale daar gedeel word in die Woord, en besef dat hierdie mense nie geweet het wat kom nie, en die oorweldigende situasies en warboel emosies moes deurmaak met vertroue en moed, sonder dat hulle die “spoiler” gehad het van wat gaan kom soos ons, kan ek met eerlikheid sê dat ek soveel meer respek vir hulle kry.

Ek begin lees met empatie en kan myself inleef in hulle spreekwoordelike skoene…’n plek waar ek, in Maria se geval, bitter bly is ek nie hoef te loop nie. 

Al was haar seun Jesus en al het Hy weer opgestaan uit die dood, moes sy elke teenstand, emosie en gruwelike situasie steeds beleef soos wat ons as mammas ons kinders se lewenstoetse, seer harte, pyn en moeilikheid beleef…want sy was steeds ‘n mamma, nes ek en jy.

‘n Mamma wat geleef het op haar knieë.

Afhanklik van die enigste Ouer wat perfek is.

Onseker oor wat sou kom maar vol hoop oor wat kan wees.

‘n Moeë maar dankbare mamma wat nie al die antwoorde gehad het nie maar wat geweet het dat Sy haar vertroue plaas in Die Een wat ‘n belofte gemaak het aan haar.

En ‘n belofte is net so goed soos die Een wat Hom maak.

 

Mag jy dus vandag weet, o liewe mamma, dat al ken jy nie die pad vorentoe vir jouself of jou gesalfde klein mensies nie, is elke dag van hulle bestaan reeds uitgelê en beplan deur die Alomteenwoordige Pottebakker en Hy ken klaar die planne; die pad; die spoedhobbels; die diep valleie en die dae van oorwinning. Niks van jou of jou kinders vang Hom omkant nie en Hy het klaar vir elke seisoen voorsiening gemaak toe Hy die paaie voor jou uitgestap het.

So hou aan opkyk na Hom, met vertroue en verwagting, Hy weet reeds wat jy nodig het nog voor jy vra en omdat Sy genade genoeg is vir jou sal Hy jou lei en krag gee om AL die dinge te doen wat nodig is deur die inspraak van Sy Gees in jou binneste.

Hy kyk vandag liefderik na jou, sy gekose mamma-beer-leier, met dieselfde oë waardeur jy jou klein lyfies sien, en eintlik selfs VEEL beter, en fluister saggies in jou oor:

“Hiérdie is die WEG my dogter, loop hierlangs. Niemand kan jou vervang nie so kom staan jou plek vierkantig vol in die voorpunt van verdediging. EK het jou met die hand uitgekies, vir hiérdie kinders, op hiérdie tydstip, en al sien jy nie altyd hoe goed jy doen en hoe trots EK is nie, weet EK…in jou bors klop DIE VADER se natuur van deernis, liefde en koestering. Al skreeu die wêreld somtyds woorde wat ontmoedig en wil afbreek moet jy nooit vergeet nie…jy kan dié doen want EK is ALTYD by jou en JY IS STEEDS...'n MAMMA.

  


Comments

Popular Posts