DIE KRAG VAN DIE EEN

 







Ek kyk na die epos voor my, oorweldig deur die massas mense wat vra vir gebed. My longe trek amper toe terwyl ek probeer dink hoe ek moontlik vir al hierdie mense sal kan bid, nie eers te praat van my eie mense en dinge nie. 

Dan spreek die Here na my hart…jy hoef nie vir almal te bid nie my kind…bid net vir EEN. 

 

Vir ‘n week en ‘n half kom die konsep van EEN oor en oor op vir my in alles wat ek sien, hoor en lees. 

EEN…dit klink so min en so eenvoudig. 

Iemand soos ek wat alles met oorgawe wil doen kan maklik die waarde van een miskyk, want meer is mos altyd beter. 

Ons almal is geneig om te dink dinge sou beter wees in ons lewens as ons MEER gehad het. 

Meer geld, tyd, geloof, geduld, slaap, krag, jeugdigheid…en hier kan jy seker self die sinnetjie klaarmaak met duisende ander dinge waarvan jy graag meer sou wou hê. 

 

In hierdie enorme wêreld met al sy oorvloedige hoeveelheid mense kan ons maklik dink dat indien ons nie iets groot en merkwaardig doen nie gaan ons, en dan ook ons netelige poging eintlik maar net in die niet in verdwyn. 

Wat kan een mens, een aksie, een stem, een woord of een beweging nou eintlik beteken? 

 

Die probleem met hierdie narratief is dat ons ten einde laaste niks doen nie want ons word gevries in die wêreld van uitstel. Ons sien die groot berg en besluit dat een tree ons uiteraard van die saak nie kan bo kry nie so ons klim dan maar eerder glad nie. 

 

God sê egter dat Hy spesifiek gekom het vir DIE EEN. 

Abraham was EEN, maar God het uit sy gehoorsaamheid, duisende uit hom laat spruit. 

Noag was EEN maar as gevolg deur sy bravade en doelgerigte onderdanigheid het God die hele wêreld nuut gemaak. 

Josef was EEN maar God het deur hom menigte mense gered van hongersnood. 

Moses was EEN maar God het hom as mondstuk, verlosser en leier gebruik van Sy gekose mense. 

Die lys van ene wat God gebruik het om sy Koninkryk te vestig op aarde gaan aan en aan maar getuig van die feit dat God mense as individue oproep maar in gemeenskap aktiveer. 


Tydens Jesus se aardse lewe het Hy ook uit sy pad uit gegaan om die ENE uit te soek en aan te raak. 

In Johannes 4 lees ons van die Samaritaanse vrou by die put aan wie Jesus gesê het dat Hy die Messias was. Sy was die eerste persoon aan wie Hy Sy werklike identiteit self bevestig het. 

Ons kan maklik dink, sjoe, sy was bevoorreg en bitter gelukkig om dan juis op daardie tyd en dag by die put te gewees het. 

Die Bybel dui egter op ‘n heel ander storie…vers 4 sê: “Hy (Jesus) MOES deur Samaria gaan.” 

Die kritiese deel hier is die woord MOES. 

Niks tydens Jesus se aardse roeping het Hy gedoen in lyn met enige ander mens se wil nie. 

Dit is dus veilig om te sê dat Hy nie hierdie roete gekies het oor Petrus of Johannes gedink het dis die korter of meer natuurskoon gevulde pad nie. 

Weens die verhouding tussen Jode en Samaritane het hulle hom juis te meer afgeraai hiervan. 

Hy het egter voor die skepping van die aarde besluit dat Hy sou werk deur dié EEN vrou en het met ‘n onstuitbare missie gegaan net vir haar en op Jesus se aandrang was sy die eerste sendeling waarvan ons weet. 

Haar getuienis het menigte na geloof in Jesus gebring. 

 

Dan is daar die man wat die legioen demone in hom gehad het. 

Markus 4 verduidelik dat Jesus en Sy dissipels na die anderkant van die See van Galilea gevaar het. 

Hiertydens is daar ‘n storm waardeur Jesus oënskynlik slaap, met ‘n ek-kan-minder-omgee-houding (volgens Sy dissipels), en die dissipels hulle varkies verloor oor hulle glo hulle gaan sterf in dié storm.

Hulle aankoms aan die anderkant sorg onmiddellik weer vir opwinding met die verskyning van die man (met ‘n klein huisie vol demone in hom) wat Jesus al van ver af sien aankom en reguit op Hom afpyl.

Jesus stuur die demone in ‘n trop varke in (seker al die dié wat die dissipels verloor het op hulle bootrit soontoe) en die mense in die omtrek skrik, is gebelg en jaag Hom weg. 

Omdat Jesus alomteenwoordig is het Hy natuurlik reeds geweet wat kom en het dus GEKIES om soontoe te gaan net vir EEN man se redding. 

Hier gee Hy dan ook weer dieselfde opdrag aan die man as aan die Samaritaanse vrou. Gaan vertel vir almal in die dorp. 

 

Laaste kyk ek dan na Marta en Maria.

Tydens een van die geleenthede wat Jesus kom eet het by hulle huis sit Maria by Sy voete en luister na wat Hy sê terwyl Marta rondskarrel om Jesus en al Sy dissipels te onthaal. 

Wat egter begin het as ‘n daad van liefde vir haar Meester verander vinnig ‘n daad van werke wanneer sy met ‘n ongelooflike, byna vermetel, selfversekerdheid vir Jesus trompop loop, en met haar gesig opgepomp soos die lippe van ‘n botoks pasiënt, Hom vermaan dat Hy sekerlik nie omgee vir haar nie want Hy sê nie eers vir Maria dat sy moet kom help nie. 

Dit klink amper soos ‘n toneel tussen my Graad 1 en 3 wanneer ek hulle vra om iets te doen en die een nie die ander een wil help om dit te doen nie. 

Jesus in al Sy liefde berispe Marta egter nie maar in simpatie sê Hy die volgende woorde: 

“Marta, Marta (hoor die liefde in Sy stem), jy is bekommerd oor BAIE dinge. Maria het egter DIE EEN ding gekies wat saak maak en dit sal NIE VAN HAAR AF weggevat word nie.” (Lukas 10:41-42)

 

STILTE spoel oor my gedagtes as ek dit lees…en dan weet ek Hy praat met my.

Ek, met my liefdestaal van dade van diens, wat so maklik dink dat ek gelykstaande is aan hoeveel ek doen. 

Wat weet dat ek gered is maar steeds luister na die leuen van die bedrieër dat God my dade van geloof gebruik om te meet of ek goed genoeg is.

Het ek lank genoeg gebid en gelees, genoeg geglo in dit wat ek Hom vra, genoeg gegee vir ander en en en. 

Die “strewe siekte” in VOLLE SWANG met ‘n goeie dosis “people pleasing” bo-oor gestrooi soos vermicelli sprinkels. 

 

Wat wil ek deur al hierdie ENE dan nou eintlik vandag vir jou sê? 

Ek, wat sukkel om enige iets te kondenseer na EEN toe.

Dit is beslis nie dat ons net moet bly by een gebed of een daad van geloof en moet dink, “Dankie! My deel is nou gedoen nie.” 

Wat egter deur al hierdie dinge deursyfer is dat GOD DIE EEN ding is wat ons moet nastrewe bo alles in hierdie lewe. 

 

Wanneer ons daagliks met Maria-harte by Sy voete kan gaan sit kan Hy ons soveel beter bemagtig om uit te gaan sonder vrees dat ons, ons plek by Hom moet verdien deur ALLES te doen, maar eerder ons wete vul dat ons Marta-werke die uitvloeisel is van Sy liefde IN ons en nie die bepaler van Sy liefde VIR ons nie. 

 

Self Jesus het die waarde van slegs EEN beklemtoon toe Hy gesê het dat Die Goeie Herder Sy 99 skape sal los om DIE EEN te gaan soek wat verlore is (Matt 18:12-13) en dat die hemele meer juig oor EEN persoon wat gedraai het van dood na lewe as wat dit juig oor al die ander wat reg doen en nie bekering nodig het nie (Lukas 15:7). 

 

Jy wat EEN is kan dus ‘n verskil maak in EEN ander mens se lewe met EEN woord van bemoediging, vers, drukkie, glimlag, geskenkie, daad van hulpverlening, opoffering, gebed of geleentheid van gehoor gegee aan ‘n ander se hart. 

 

As elkeen van ons net EEN persoon vandag dien en vertel van Jesus sal die wêreld ‘n dramatiese gedaanteverwisseling ondergaan.

Die taak is so eenvoudig dat selfs vissermanne dit kon doen…net EEN, en dan nog EEN en dan nog EEN. 

Hoe kleiner die taak, hoe moeiliker is dit om dit nie te doen nie, en vandag roep GOD jou om die een korreltjie rys te wees wat die skaal laat kantel.

 

Want soos die groep Leeland sing: 

“One man wakes, awakens another. Second one wakes his next door brother.

Three awake can rouse a town and turn the whole place upside down.

Many awake, will cause such a fuss it finally awakens all of us.

One man wakes with dawn in his eyes

Surely then it MULTIPLIES”

 

Wat gaan jy dus doen met die wete dat JY die EEN is waarvoor Jesus gekom het en dan ook weer die EEN wat Hy stuur? 

Wie gaan jy vertel? 

Vir wie gaan jy Sy hande en voete wees?

Wie is vandag jou EEN? 

 

Comments

Popular Posts