BELOFTES OM VOOR TE WAG

 




Soms wanneer mens deur moeilike tye gaan is jy geneigd om net die donker en verdrietige dinge raak te sien om jou.

Weggesteek in die donker is daar egter oorvloedige skatte van lig en hoop. As ons maar net ons oë kan herfokus in die donker, op die een WARE bron van LIG, vir wie die donker net so helder soos die lig is (Ps 139:11-12).

Die afgelope paar maande was ‘n drysfsand seisoen vir my.

‘n Spasie van onstabiliteit en verandering maar tog ook van BELOFTE.

Gewapen met my hart van gehoorsaamheid en die beloftes van God as my swaard het ek daagliks die modderige moeras van my lewe aangedurf met die wete dat Hy wat voor my uitloop die weg sal baan vir die dinge wat Hy van my vra.

Seker dat ek moet gaan, maar nie altyd seker waarheen nie.

Een ligstraaltjie van duidelikheid op ‘n slag, al langs die donker pad…vorentoe…soos Abraham wat moes trek uit Ur uit, selfs al het hy nie geweet waarheen nie, maar dit gedoen het omdat Hy vertrou het dat God getrou sal wees aan Sy beloftes om hom te help.

Hierdie seisoen het, met die krag van ‘n overwagse noodstop, binne minute tot ‘n einde gekom met ‘n oproep waarvan die boodskap glad nie was wat ek gedink het, of op daardie stadium voor geHOOP het, nie.

Emosioneel vasgevang in die “no man’s land” tussen die stad-van-verwagting en die platteland-van-onvervulde-verwagtings.

In my teleurstelling het ek geworstel met die feit dat ek seker was dat God my presies op hierdie pad heen gelei het en dat dit waarheen ek beweeg het presies was wat Abba van my gevra het. 

Sekerheid dat ek wel, minstens hier, in GEHOORSAAMHEID opgetree het.

Tog het ek gewonder hoekom Hy my dan nou hierlangs gebring het as ek net gehoorsaam was en gedoen het wat Hy van my gevra het?

Weggewerp na die verlate eiland van GEHOORSAME MISLUKKING en TELEURSTELLING.

Daar was 'n diep teenstrydigheid in my gees, en ek kon nie sin maak van die pad, wat net dae terug seker was nie. Helder en windstil, soos ‘n gladde rivier op ‘n warm somer dag.

Nou het dit eerder gevoel soos die verhaal van die dissipels op die stormagtige en onstuimige meer. Wind verwaaid in die klein skuitjie, angsbevange, en met oë wat smekend kyk om hulp na Jesus wat lê en slaap. Wonderend of Hy dan eintlik omgee vir hulle as Hy nie eers die moeite doen om wakker te wees in hulle uur van nood nie.

Oorweldig.

Bang.

Onseker.

Skynbaar verlate.

 

Ek huil…en ek bid…en ek vra vrae…EN DAN hoor ek SY stem in die woorde van die liedjie van Red Rocks Worship wat weerklank in my binneste....oor en oor en oor:

🎵“He has good plans for me

So, I will take heart

In deserts and gardens

He has good plans

He has good plans for me

If I know my Father

I know my Father

Has good plans.”🎵

In daardie oomblik verstaan ek die woorde van Psalm 31:22 aan my vleis, waar David uiter: “In my alarm I said: I am cut off from Your sight! Yet You heard my cry for mercy when I called to You for help.”

En dan huil ek sommer weer want selfs in die teleurstelling ontmoet My God my, weereens, net waar ek is.

En ek haal asem en KIES om steeds te glo in die kosbare belofte van Jeremia 29:11 wat hierdie liedjie bevestig.

Ek glo dit so vas dat ek vrede het in die onsekerheid; in die trane; in die verwarring.

Hier op papier klink dit dalk maklik. Eenvoudig selfs. 

Maar dit was nie.

En dit is nie.

Dit sal ook nooit wees nie.

MAAR om te GLO bly, na baie eeue, steeds ons KEUSE.

Op wie gaan ons vertrou as moeilikheid en teleurstelling aan ons deur kom klop?

In wie gaan jy jou hoop plaas?

Kies jy lewe of kies jy dood?

 

 

Gedurende hierdie tyd bring God ook Ps 27:14 herhaaldelik na my toe:

“Wait for the Lord. Be strong and take courage and wait on the Lord.”

Die opdrag is duidelik en ondubbelsinnig en orals in my gesig.

Selfs terwyl ek ry pronk die woord WAIT, op die muur van ‘n gebou voor my, by die verkeerslig.

Skynbaar uit die bloute.

Ek wat egter my Vader ken, weet hoe lyk Sy vingerafdrukke, en Sy “toevallige tekens", en kan sien dat dit alles behalwe ‘n toeval is.

Daarom dat ek nie anders kan as om te sê: “Okay Here…ek verstaan nie, maar ek vertrou U Soewereniteit en U BELOFTES aan my, en as U sê wag dan sal ek in gehoorsaamheid wag”.

 

Maar jinne jong, om te WAG, as jy gedink het die Here sê: “VOORWAARTS MARS”, is meer as net moeilik.  

Dit vat 2 Korintiërs 12:9 genade, direk uit die Vader se hand, om geplant te staan as jy gedog het God sê dis nou tyd om te gaan.

Soms sê Hy, soos in my geval, wel ook om te gaan maar die treë is minder as wat jy gedink het en aangeneem het dit gaan wees.

‘n Oënskynlike 100m sprint draai uit om die eerste 100m te wees van ‘n ultra marathon…en dit voel natuurlik, vir die vleis in jou, soos vals advertering.

God het egter nie gesê hoe ver jy gaan moet treë uit die boot uit nie.

Net dat jy moet uitklim.

Sy tydslyn lyk drasties anders as ons sin, wat rondloop met ons 10 of 20 jaar planne, gewaarmerk deur ons eie idees van ons toekoms en nie altyd God se idees nie.

Ongelukkig kan ons egter al die planne in die wêreld maak, maar as God nie dit so wil doen nie kan jy maar, soos my pa sou sê, Sarie Marais deur jou boude fluit, maar Sy wil sal geskied.

Spreuke 16:9 sê dan vir ons “ Die hart van ‘n mens beplan sy pad maar die Here bepaal hoe hy loop.”

Dit kan nie veel meer duideliker wees as dit nie.

Dit laat my dan ook dink aan Abraham en Sara wat 25 jaar moes wag vir Isak, hul baba van belofte.

Hy het so lank geneem om te "arriveer" dat Sara, in haar menslikheid, haar eie planne probeer maak het om God se beloftes oor hul lewens tot vervulling te bring.


Uiters belangrike kant nota:

Moenie deur ongeduld ‘n Ismael baar nie.

God sal doen wat net Hy kan, in Sy tyd en op Sy maniere, selfs al lyk dit vir jou asof Hy dalk vergeet het.

God is nie ‘n mens wat van beloftes vergeet nie.

In 1 Konings 8:24 verwoord Koning Salomo dit so raak wanneer hy sê : “You have kept what You have promised. You have both spoken with Your mouth and fulfilled it with Your hand.”

Ismael mag dalk aanloklik lyk maar gaan jou ook dalk eindelose hoofpyne later in jou lewe veroorsaak.

WAG op God.

WAG vir Sy beloftes.

WAG vir Sy LIG om te val.

Hy sal nie teruggaan op Sy beloftes nie.

Alhoewel ons dink dat ons hiper intelligensie ons kwalifiseer om Hom te adviseer kan jy verseker wees van dit dat Hy jou oneindig lief het, MAAR jou NIE nodig het om Sy doeleindes te vervul nie, en dat wat Hy beplan vir jou lewe beter, groter en meer is as wat jy kan indink in jou wildste drome (Ef 3:20).

 

Laastens herinner dit my dan ook aan wat die skrywer van Hebreërs sê in Hoofstuk 11 oor die Geloofshelde wat in die Bybel se “HALL OF FAME” aangeteken is:

“These all died in FAITH, NOT HAVING RECEIVED the promises, but having SEEN them afar off, were ASSURED of them, EMBRACED them and CONFESSED that they were STRANGERS and pilgrims on the earth.

Hierdie verwys na die "crème de la crème" van gelowiges, wat in God se oë hoë aansien het, weens die manier wat hulle hul aardse resies, met volharding van geloof, gehardloop het.

Hulle KEUSES om, God se beloftes aan hulle in hulle geestesoog te kon visualiseer, en die vasberadenheid om te KIES om aan te hou glo in SY WOORD.

Selfs al het alles rondom hulle, op menigte geleenthede, daardie hoop weerspreek.

 

Jy mag dalk vandag voel asof God jou vergeet het, of dalk oorreed jou omstandighede jou dat dit wat Hy aan jou belowe het nooit tot vervulling gaan kom nie.

Miskien is jy vol verwagting oor vars beloftes of klou jy vir lewe en dood vas aan stokou beloftes waarin jy jou hoop geplaas het, maar wat soos ‘n ou tannie na jou toe aanstap met haar loopraam…stadig en met talle stoppe al langs die pad.

Waar jy jouself ook al bevind, weet net dit:

Ons God se WOORD is onfeilbaar en perfek (Ps 18:30).

Hy SAL dit voltooi wat Hy begin het in jou (Fil 1:6).

Hy het goeie planne van voorspoed vir jou en ‘n hoopvolle toekoms (Jer 29:11).

Hy sal jou nie los of in die steek laat nie (Deut 31:6).

Hy is getrou om Sy beloftes te vervul (Heb 10:23).

Hy sal Sy visie vir jou lewe tot vervulling bring, selfs al kom dit stadiger as wat jy verwag of dink dit moet (Hab 2:3).

 

So skryf jou beloftes neer.

In jou hart.

Op papier.

In jou spiëel.

Op jou foon.

Dra dit saam met jou rond as bevestiging van Sy Woorde oor jou en jou nageslagte.

Hou dit voor jou oë, of op enige plek waar jy baie tyd spandeer, en ORALS waar jy kom, sodat jy sodoende jouself kan herinner aan God se beloftes.

Spreek dit hardop oor jou lewe wanneer die listige vyand kom met sy aantuigings, reg om jou te ontmoedig, want hy gaan kom om jou te toets en jou probeer mislei om God se woord oor jou te wantrou. Net soos wat hy Eva mislei het oor die waarheid en geloofwaardigheid van God se woorde aan haar en Adam.

Staan vas in die oortuigings van WAT God vir jou en van jou sê, met die wete dat God se beloftes NIE gesteel kan word nie.

Geen Woord wat uit Sy mond uit kom sal leeg na Hom toe terugkeer nie maar elkeen sal weer in Sy hemelse troonkamers inbeweeg met die bevestiging van die voltooide werk en doel waarvoor Hy dit gestuur het (Is 55:11).


Al het ek steeds vandag nie al die antwoorde nie wil ek jou bemoedig en aanmoedig om te ONTHOU: 

God is ‘n GETROUE PAPPA, 

Hy is GOED en

Hy sal ALTYD getrou wees aan ELKE belofte wat Hy maak, sonder uitsonderings…vir my en so ook vir jou.

Comments

Popular Posts